10557437_10203687037390672_1562084278361189552_n

Die Wonderful Woman of the Waterberg-vrouedag wat op Saterdag, 4 Oktober, deur die Waterberg-sakekamer, ten bate van die ondersteuningsraad op Modimolle aangebied is, was ’n groot sukses.
Die geleentheid het by by Shangri-La Country Hotel tussen Bela-Bela en Modimolle plaasgevind en ongeveer 120 gaste het die dag bygewoon. Dit was vir die gaste ’n ontspannende dag weg van die huis waar hulle met ou en nuwe vriende, kollegas en kennisse gekuier het.
Verskeie uitstallers het gesorg dat daar genoeg interessanthede was om in die vroue se smaak te val — van tupperware, varsgebakte beskuit en kunstige huis- en tuinversierings, tot die lieflikste blink juwele om van te kies en te keur.
Marlene De Villiers het as programleier opgetree en die gassprekers het gesorg vir ’n inspirerende oggend. Sharkie, oftewel Chantelle Pietersen, het gaste met haar pragtige sang vermaak.
Pick n Pay Modimolle, wat die hoofborg vir die dag was, het met die inisiatief vorendag gekom om ’n jaarlikse instelling van dié geleentheid te maak, waartydens ’n vrou uit die Waterberg-omgewing, wat ’n positiewe verskil in haar gemeenskap maak, vereer word. Pick n Pay het R10 000 kontant geborg, wat direk aan die ondersteuningsraad geskenk word.
Sonette Ebersöhn is uit vanjaar se nominasies as Waterberg Woman of the Year 2014 as wenner bekroon.
Volgens die bestuur van die sakekamer het Ebersöhn die afgelope twee jaar in diens van die sakekamer, buiten haar normale administratiewe pligte, ook verskeie ander inisiatiewe geïdentifiseer en die sakekamer oortuig om dié inisiatiewe, wat die beeld en rol van die sakekamer én gemeenskap uitbou, te ondersteun.
Voorbeelde hiervan is onder meer die herlewing van die Toerisme Info-kantoor waarin Ebersöhn en haar vennoot, Rudi Schlieben, ’n groot rol gespeel het. Sy het self baie moeite gedoen om die Waterberg-distriksmunisipaliteit in só ’n mate te betrek dat hulle vir die koste van verskeie aksies ingestaan het, soos die loodsvergadering, die bywoning van die Toerisme Indaba in Durban vroeër vanjaar, sowel as die Toerisme “Road Show”, om die dorp en rolspelers in die toerismebedryf in die omgewing, te promoveer.
Ebersöhn staan ook agter die bekendstelling van die “Kersfees in Julie-projek”, wat nou ’n jaarlikse instelling sal wees ten bate van minderbevoorregte kinders in die gemeenskap. Sy is nog by verskeie ander projekte ook betrokke.
Die organiseerders wat saamgespan het om die vrouedag aanmekaar te weef, sê hulle is baie tevrede met die dag se positiewe uitkoms. Hulle bedank graag al die borge, uitstallers, helpers en gaste wat die dag ondersteun het.

Bron: Die Pos