Waterberg-sakekamer vereer gemeenskapsbouer deur Denise van Bergen

Waterberg-sakekamer vereer gemeenskapsbouer deur Denise van Bergen

10557437_10203687037390672_1562084278361189552_n

Die Wonderful Woman of the Waterberg-vrouedag wat op Saterdag, 4 Oktober, deur die Waterberg-sakekamer, ten bate van die ondersteuningsraad op Modimolle aangebied is, was ’n groot sukses.
Die geleentheid het by by Shangri-La Country Hotel tussen Bela-Bela en Modimolle plaasgevind en ongeveer 120 gaste het die dag bygewoon. Dit was vir die gaste ’n ontspannende dag weg van die huis waar hulle met ou en nuwe vriende, kollegas en kennisse gekuier het.
Verskeie uitstallers het gesorg dat daar genoeg interessanthede was om in die vroue se smaak te val — van tupperware, varsgebakte beskuit en kunstige huis- en tuinversierings, tot die lieflikste blink juwele om van te kies en te keur.
Marlene De Villiers het as programleier opgetree en die gassprekers het gesorg vir ’n inspirerende oggend. Sharkie, oftewel Chantelle Pietersen, het gaste met haar pragtige sang vermaak.
Pick n Pay Modimolle, wat die hoofborg vir die dag was, het met die inisiatief vorendag gekom om ’n jaarlikse instelling van dié geleentheid te maak, waartydens ’n vrou uit die Waterberg-omgewing, wat ’n positiewe verskil in haar gemeenskap maak, vereer word. Pick n Pay het R10 000 kontant geborg, wat direk aan die ondersteuningsraad geskenk word.
Sonette Ebersöhn is uit vanjaar se nominasies as Waterberg Woman of the Year 2014 as wenner bekroon.
Volgens die bestuur van die sakekamer het Ebersöhn die afgelope twee jaar in diens van die sakekamer, buiten haar normale administratiewe pligte, ook verskeie ander inisiatiewe geïdentifiseer en die sakekamer oortuig om dié inisiatiewe, wat die beeld en rol van die sakekamer én gemeenskap uitbou, te ondersteun.
Voorbeelde hiervan is onder meer die herlewing van die Toerisme Info-kantoor waarin Ebersöhn en haar vennoot, Rudi Schlieben, ’n groot rol gespeel het. Sy het self baie moeite gedoen om die Waterberg-distriksmunisipaliteit in só ’n mate te betrek dat hulle vir die koste van verskeie aksies ingestaan het, soos die loodsvergadering, die bywoning van die Toerisme Indaba in Durban vroeër vanjaar, sowel as die Toerisme “Road Show”, om die dorp en rolspelers in die toerismebedryf in die omgewing, te promoveer.
Ebersöhn staan ook agter die bekendstelling van die “Kersfees in Julie-projek”, wat nou ’n jaarlikse instelling sal wees ten bate van minderbevoorregte kinders in die gemeenskap. Sy is nog by verskeie ander projekte ook betrokke.
Die organiseerders wat saamgespan het om die vrouedag aanmekaar te weef, sê hulle is baie tevrede met die dag se positiewe uitkoms. Hulle bedank graag al die borge, uitstallers, helpers en gaste wat die dag ondersteun het.

Bron: Die Pos

Erkenning aan 2 persone vir hul bydraes in die gemeenskap

i) Mnr Willie Steenberg-

Mnr Steenberg dien al vir die afgelope 4 jaar as ‘n vrywilliger op Wyk 4 van Modimolle se stemwyke se Munisipale Wykskommittee. Hy is aktief betrokke met die identifisering van projekte wat binne Wyk 4 en Wyk 8, wat basies die hele sakekern van Modimolle omvat, jaarliks aangepak behoort te word. Mnr Steenberg doen baie moeite om geskatte begrotings vir sodanige projekte voor te berei ten einde sodanige begrotings in die “beplannings-begroting” (IDP) van die Munispaliteit se totale begroting op te neem. In die 2013/2014 begroting was meneer Steenberg se pogings van kardinale belang ten einde fondse te bekom vir die opgradering van publieke parke binne die sentrale dorpsgebied, wat die omheing deur palliasades ingesluit het en het hy self deurentyd ‘n toesighoudende en adviseerende rol gespeel ten einde uitvoering aan hierdie projekte gee, wat ook suksesvol afgehandel is.

ii) Mnr Wiets Botes-

Mnr Wiets Botes is al die afgelope 15 jaar ’n lid van die Waterberg Sakekamer. Hy dien al 10 jaar op die Sakekamer se bestuur en het ook voorsitter van die Sakekamer in 2012 en 2013 gedien.

Mnr Botes is ook sedert Desember 1999 aktief in die plaaslike party-politiek betrokke en het homself in 2003 by die regerende party aangesluit. Hoewel Mnr Botes aanvanklik baie kritiek vir sy politieke bewegings uit verskeie oorde in die gemeenskap moes verduur, is daar vandag groot waardering vir sy bydrae tot die gemeenskap as Raadslid van die Plaaslike Munisipaliteit. Die rede hiervoor is dat meneer Botes daarin kon slaag om as lid van die gemeenskap, die Sakekamer en lid van die regerende party, verskeie brûe kon bou om die belange van sy gemeenskap en die Sakekamer in baie opsigte kon beskerm en te voorkom dat slegs die belange van die tradisionele lede en gemeenskap van die regerende party bo ander groepe gedien word.

Dit is dan ook een van die primêre redes waarom daar, vergeleke met ander sake-gemeenskappe in ons omliggende dorpe, ‘n redelik gesonde verhouding tussen die Sakesektor in Modiolle en die plaaslike- en distriks munispaliteite bestaan, in so ‘n mate dat die Waterberg Sakekamer in bykans telkens inisiatief van die plaaslike owerhede van die eerste instansies is wat betrek word en word daar ‘n hoë premie deur hierdie instansies op die bydraes van die Sakekamer geplaas.

Op die foto van Links na regs:

Mnr. Fernando Goncalves (Voorsitter), Mnr. Wiets Botes, Mnr. Willie Steenberg, Mnr. Jan Koelewyn (Ondervoorsitter)